Ons vir jou: over de uittocht der Afrikaners en de teloorgang van hun taal

Voortrekkersmonument

Voortrekkersmonument

Eens op ‘n tyd – tussen 1980 en 1990 – het die Afrikanervolk omtrent 4,5-miljoen getel.  Dit was waarskynlik die meeste Afrikaners ooit.

In 1990 het mnr F W de Klerk (die laaste wit leier van ‘n land in Afrika) sy berugte toespraak gehou waarin hy aangekondig het dat hy Suid-Afrika gaan hervorm.  Nelson Mandela is vrygelaat; alle verbode organisasies is ontban; en hy het ‘n beroep op die blanke kiesers gedoen om “ja” te stem in die referendum wat spoedig sou volg.  As ‘n slim en uitgeslape regsgeleerde het De Klerk goed geweet dat die gemiddelde kieser erg naïef, goedgelowig, oningelig, en “polities gestrem” is.  Hy het deeglik daarvan misbruik gemaak en 90% van die blanke kiesers om die bos gelei.

Die kiesers moes “vir” of “teen” hervorming stem.  Daardie “hervorming” sou ondermeer beteken dat Suid-Afrika ‘n “beter” land sou wees.  As mens vir ‘n kleuter sou vra om tussen “goed” en “sleg” te kies, sal hy vanselfsprekend “goed” kies.  Maar ‘n mens vra tog nie so ‘n vraag vir ‘n volwassene nie!
Onder normale omstandighede sou mens dink dat volwassenes die verstand sou besit om te weet dat politici altyd daarop uit is om kiesers te mislei, maar dit het toe nie in 1992 in Suid-Afrika gebeur nie.  Volwasse blankes het nie hul gesonde verstand gebruik nie, en het soos naïewe kinders vir die “beter” Suid-Afrika gestem.  De Klerk het die kiesers bang gemaak en gesê dat, indien hulle “nee” sou stem, Suid-Afrika in ‘n bloedbad sou verander.  Die feit is, sedert sy ontstaan in 1652, het die Afrikanervolk al voor verskillende krisisse te staan gekom, en dit elke keer met sukses opgelos.

De Klerk het ook die volk met ekonomiese ondergang bang gepraat, maar ook op ekonomiese gebied was die Afrikaner paraat, en kon hy die aanslae (soos sanksies en ekonomiese boikotte) afweer.  De Klerk het uit sy pad gegaan om, al wat ‘n bangmaakstorie is, uit sy kas te haal en voor die Afrikaner se hoof geslinger.  Dit het gewerk!  Dit het gewerk omdat die meeste kiesers nie hul huiswerk gedoen het nie.  Elke woordjie wat De Klerk gesê het, is ernstig opgeneem, en die volk was “in vrees en bewing”.  Byna 2-miljoen blanke kiesers het “JA” gestem vir ‘n “beter Suid-Afrika”.

In 1990 het duisende Afrikaners die land verlaat – om verskeie redes – maar die hoofrede was die onverskillige en dom wyse waarop F W de Klerk die Suid-Afrikaanse politiek hanteer het.  Dit was veral die ekonomies sterk groep Afrikaners wat vir hulle ‘n heenkome in die buiteland gaan soek het, want vir hulle was “die skrif aan die muur.”  Hulle het nie vir De Klerk vertrou nie.
Maar, dit was nie net daardie gewraakte toespraak van mnr De Klerk wat mense laat vlug het nie; toe die referendum se uitslag so oorweldigend ten gunste van verandering was, het die 2de golf van wegvlug begin.
Die vrylating van Mandela het ‘n 3de uittog tot gevolg gehad, groter as die eerste twee.  Sommige JA-stemmers het begin besef dat De Klerk hulle om die bos gelei het.  Hulle het gedink die Kabinet gaan eers met die ANC samesprekings voer, en dan na die blanke kiesers terug kom om hul toestemming vir verdere optredes te vra.  De Klerk het egter sy eie besluite geneem sonder om die volk te raadpleeg.

Toe die ANC die bewind oorgeneem het, en Mandela as “eerste demokraties verkose president” ingesweer is, het die 4de skok Afrikaners getref.  Dis nie seker watter een van die skokke die grootste was nie, maar met elke optrede het ‘n nuwe vlaag van Afrikaners die land verlaat.  Sommige mense het aangedui dat hulle oorsee wil gaan studeer; ander het beter werk gaan soek; nog ander was bekommerd oor hul kinders se toekoms in ‘n swart Suid-Afrika; en nog ander het ander redes aangevoer waarom hulle die land (tydelik of permanent) verlaat.

Die 5de en laaste uittog is deur die verskriklike vlaag van misdaad veroorsaak.  Suid-Afrika word beskou as die land met die meeste moorde, korrupsie, verkragtings, diefstal en ander misdaad in die wêreld, asook die land met die swakste administrasie.  Maar, daardie vlaag het nog nooit gestop nie.  Dit duur steeds voort.  Sowat 2 000 Afrikaners verlaat nou elke maand die land.
Aangesien Afrikaners oor die jare heen gebreinspoel is om “liewer Engels te leer”, omdat Engels kwansuis ‘n wêreldtaal is, en binnekort die wêreld se enigste taal gaan wees, het naïewe Afrikaners begin om hul kinders na Engelsmedium skole te stuur, en op Afrikaners wat nie Engels wou aanvaar nie, neergesien.  Afrikaans is, ten spyte van die negatiewe gebeurtenisse, steeds Suid-Afrika se 3de grootste taal, terwyl Engels in die 8ste plek is.

Weens die negatiewe boodskap wat apartheid die wêreld ingestuur het, het al hoe meer stamlande (veral Nederland) sanksies teen Suid-Afrika ingestel.  Dit het die Afrikaner veral op kulturele gebied geknou, want jong Afrikaners het al hoe minder tale van die stamlande begin leer, en al hoe meer Engels as eerste (en enigste) vreemde taal geleer.  Toe Suid-Afrika in 1976 vir die eerste keer televisie gekry het, het die Engelse, maar veral die Amerikaners, ‘n gaping gesien en dit deeglik benut.  Feitlik 90% van alle films en ander televisieprogrammas het uit die VSA gekom.  In die proses het dit darem een positiewe verwikkeling meegebring, en dit was dat Afrikaanse kultuur op televisie geweldig bevorder is.  Ongelukkig is Engels – ten koste van Nederlands, Duits en Frans – bevorder.
Toe die groot uittogte van Afrikaners begin het, was dit feitlik ‘n uitgemaakte saak dat Afrikaners nie juis tot hul stamlande aangetrokke gevoel het nie, en het honderde-duisende hulle in lande soos Brittanje; Kanada; die VSA; Australië; en Nieuw-Zeeland gaan vestig.  Slegs klein hoeveelhede het na Duitssprekende en Nederlandssprekende lande ge-ëmigreer.  Indien daardie emigrante permanent in die buiteland sou bly, sal die Afrikaanse taal en kultuur onder hulle helemaal uitsterf.
Die groot “brein drein” onder Afrikaners het in die ouderdomsgroep 25 – 40 plaasgevind.  Dit is nie net die mense wat in die mees produktiewe groep is nie, maar dit is ook die mense wat vir die aanwas van ‘n volk moet sorg.  Diegene wat bo 40 is, se kinders gaan ook binnekort emigreer, aangesien hier vir hulle geen werk in Suid-Afrika is nie.  Sedert 2012 staan die Afrikaner se groei op -0,06%.  Na verwagting sal die syfer aan die einde van 2013 op – 0,1% staan….’n heel geringe groei.  Jongmense trou nie meer nie, aangesien daar geen vooruitsige op ‘n beter lewe vir Afrikaners in Suid-Afrika meer is nie.

Peter Murray