Boerskot
06:02:2013
Zuma sê dit is afpersing
Die Suid-Afrikaanse regering is blykbaar nie bewus van die internasionale ekonomiese krisis nie, en verstaan nog minder hoe die ekonomie werk. In alle nuusmedia van die wêreld word daar elke dag berig oor die slegte uitwerking wat die ekonomiese krisis wêreldwyd op alle lande het.
Ook S.A. word direk en indirek deur die krisis geraak. Alhoewel die amptelike werkloosheidsyfer op 23% staan, meen deskundiges dat dit nader aan 43% is. Sowat 25% van alle blankes is werkloos, en omtrent 50% van die swart jeug is ook werkloos.
Korrupsie en diefstal is aan die orde van die dag, en Suid-Afrika word naas Rusland as die wêreld se mees korrupte land beskou. Staatsdepartemente en plaaslike regerings (munisipaliteite) kan nie meer normaal funksioneer nie, omdat daar kwansuis nie geld is nie. Suid-Afrika, wat onlangs in Davos, Switserland, op die Internasionale Ekonomiese Beraad verteenwoordig was, word as een van die wêreld se 20 rykste lande beskou, maar hierdie “ryk” land is nie instaat om na sy eie finansies om te sien nie. Van die land se nagenoeg 500 stadsrade is daar slegs 5 wat die afgelope 10 jaar ‘n skoon oudit getoon het. Die ANC raadslede en amptenare steel nie net hul eie stede bankrot nie, maar die land ly erg onder die wanadministrasie.
Daar is feitlik elke dag optogte, betogings, sabotasie en verskillende vorms van onrus in die land oor swak (of geen) openbare dienste, maar die ANC (African National Congress) vind dit nodig om alles wat verkeerd gaan, voor die deur van apartheid en van die blankes te lê. Deels weens die internasionale krisis, maar deels ook oor plaaslike probleme, het verskeie mynhuise in S.A. besluit om van die skagte by goudmyne (asook ander soorte myne) te sluit, of om produksie in te kort. In reaksie hierop het president Jacob Zuma verlede week die mynhuise van “afpersing” beskuldig, en sê dit is net ‘n skelm plan van die rassistiese blankes om swart mynwerkers af te dank.
Die ANC se langtermynplanne is om werkloosheid te stop, en om teen die jaar 2020 sowat 20-miljoen nuwe werksgeleenthede te skep. Die aankondiging dat 14 000 mynwerkers binnekort afgedank sal moet word, was dus ‘n groot skok vir die regering. Zuma is ook ontevrede oor die aankondiging dat lone aan mynwerkers ook sal moet daal. Intussen stroom onwettige immigrante uit ander Afrikalande Suid-Afrika onverpoosd binne, en geen voorsiening word gemaak vir woonplek, werk, voedsel en openbare dienste aan hierdie illegales nie. Net uit China alleen, het sowat 500 000 immigrante die laaste 10 jaar na die land gestroom.
Oud-president Thabo Mbeki het 10 jaar gelede gesê alle grensdrade moet verwyder word. “Grense is ‘n onding wat deur rassistiese blankes geskep is om swartes uit die land te hou,” het Mbeki destyds gesê. Hierdie boodskap het dwarsdeur die hele Afrika versprei, en nou dink die miljoene arm swartes van Afrika dat hulle almal welkom in die Nuwe Suid-Afrika is. Aangesien die infrastruktuur nie aan die behoeftes van die massas vreemdelinge voldoen nie, is die land besig om in chaos te verval. En hierdie chaos, sê president Zuma, is apartheid se skuld. Na 19 jaar van “democracy”, is die ANC-regering steeds nie instaat om orde uit die chaos te skep nie.
Zuma se uitlatings, wat op CNBC Africa uitgesaai is, volg nadat die regering, vakbonde en die ANC planne van Anglo Platinum (AMPLATS), om 2 myne te sluit en 14 000 werkers af te dank, sterk teengestaan het.
S.A. se platinum- en goudsektore is verlede jaar deur gewelddadige stakings en arbeidsgeweld geruk. Meer as 50 mense is dood, en die uitset van verskeie top myne is erg geraak. Anglo American Platinum, die wêreld se grootste leweransier van edelmetale, het Maandag aangekondig dat hy ‘n jaarverlies van R6,3-miljard (0,525-miljard Euro) gely het.
“Plaaswerkers” staak voort
Die sogenaamde plaaswerkers, wat grotendeels uit seisoenwerkers bestaan, is deur die marxistiese vakbond Cosatu beveel om voort te gaan met stakings in die Boland. Cosatu is berug daarvoor om te “krap waar dit nie jeuk nie.” Verledejaar is skade van miljoene aangerig toe Cosatu swart en bruin werkers aangehits het om te weier om enige werk op Bolandse vrugteplase in die Wes-Kaapse provinsie te verrig.
Die plunderaars het egter nie uit permanente plaaswerkers bestaan nie, maar uit werklose seisoen-werkers. Die “plaaswerkers” het om hoër lone betoog, en het ge-eis dat hul loon van R69 per dag na R150 per dag verhoog word.
Boere het onderlinge ooreenkomste met hul permanente werknemers, en die meeste van hulle betaal al jare lank veel meer as die regering se minimumloon van R69 per dag. Daar is van die bruinmense wat al geslagte lanbk op dieselfde plase woon en werk, en hulle besef dat hulle nie té hoë eise aan hul werkgewers kan stel nie, aangesien hulle dan die gevaar loop om hul werk te verloor. Daar is wel sterk boere wat groot inkomste op hul uitvoervrugte- en wyn verdien, maar in sulke gevalle word die werknemers ook dienooreenkomstig beloon.
Beginnerboere, en boere met ‘n klein inkomste, is verplig om hul werknemers die voorgeskrewe minimumloon van R69 te betaal. Die alternatief is om van die werknemers af te dank, of om hulself bankrot te verklaar en hul plase te verlaat.
Sedert 1994 stroom duisende swartes vanuit die Oos-Kaap, asook van ander dele van Afrika, elke dag die Wes-Kaap binne. Werk is skaars, woonhuise is skaars, voedsel is duur en skaars, en daar is nie genoeg geriewe (infrastruktuur) vir die duisende nuwelinge wat die provinsie instroom nie. Dit is hierdie mense wat gretiglik van Cosatu se versoek gebruik maak om aan onwettige betogings deel te neem, en wat voorgee dat hulle “plaaswerkers” is. Verskeie vrugtefabrieke, koelstore, plaasopstalle, trekkers en ander plaasimplimente, is deur hierdie massas afgebrand en vernietig. Ook wingerde, wynkelders, en pakstore waar sagte vrugte in koelkamers gehou word om na oorsese markte verskeep te word, is vernietig.
Die boere is magteloos, want hulle kan nie eensydig lone verander nie. Die vakbonde behoort met die regering te onderhandel, maar dit is makliker om blanke boere van rassisme te beskuldig en dan boere se eiendomme te beskadig.
Die regering het verlede maand aangekondig dat die nuwe “minimumloon” op R105 per dag vasgestel is, maar Cosatu is nie tevrede nie en het sy lede opdrag gegee om met die stakings voort te gaan, en om boere “wat nie wil hoor nie” se eiendomme te beskadig.
Ons wil self onderhandel
Werknemers op plase in die distrikte van Paarl en Wellington in die Boland dring nou daarop aan om self met boere, en met die Departement van Landbou, oor hoër lone te onderhandel.
“Ons hettie vi Tony Ehrenreich of vi Nosey Pieterse norigie. Ons hettie vi Cosatu norigie. Ons hettie vi djulle ‘n mandaat gegie om namens ons te pratie. Ons kan mos vi onse selwers gan praat. Wa kom djulle Cosatu-mense vidaan? Ons wil vi ons self praat, ons wil dit sonner geweld, sonner skade aan die boere, en sonner moord doen,” het Magrieta Futhwa van die Wellingtonse Plaaswerkersforum aan die media, in die tiepiese Kaaps-Afrikaanse dialek gesê.
Nuwe loon bekend
Die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant, het Maandag aangekondig dat daar besluit is om die minimumloon vir plaaswerkers van R69 per dag tot R105 te verhoog. Dit is gelyk aan R11,66 per uur, of aan R2 274,82 per maand. Die nuwe loon is van 1 Maart af van krag.
Die vakbond Cosatu eis egter R150 per dag, en dreig om hul stakings voort te sit totdat elke boer in die land ‘n minimum van R150 betaal.
Boere in die groentebedryf het gewaarsku dat hulle dit nie kan bekostig nie, en dat een van twee dinge sal gebeur: Boere sal hul getal werknemers moet verminder, of hulle sal hul bedrywighede moet staak. Dit sou beteken dat groente en vrugte ten duurste van oorsee ingevoer sal moet word. Meer nog; werkloosheid in Suid-Afrika sal oornag verdubbel.
Peter Murray