Ons vir jou: geschiedenis, onkunde, armoede …
In die jare sestig van die vorige eeu het die rektor van die Universiteit van Stellenbosch, Prof. H B Thom, ‘n beroep op die regering gedoen om Geskiedenis ‘n verpligte vak vir toelating tot ‘n Suid-Afrikaanse universiteit te maak, aangesien hy toe al gesien het dat Afrikaners se kennis oor ons land en volk se geskiedenis skokkend was.
Daar het nie veel van sy oproep gekom nie. Die land se wette is nie verander nie, maar van die kinders se ouers het die professor se woorde ernstig opgeneem, en hul kinders gedwing om Geskiedenis tot by die 12de skooljaar te studeer. Suid-Afrika bevind hom egter vandag in ‘n veel swakker posisie as in 1960, en daar is vele jongmense – swart en wit – wat van die geskiedenis van ons land absoluut niks, of byna niks, weet.
Van die land se jongmense weet gladnie waar die blankes vandaan kom, en wanneer hulle in die land aangekom het nie. Die voormalige ANC-jeugleier, Julius Malema, het onlangs sy eie politieke party gestig, nadat die ANC hom – weens “wangedrag” – uit die ANC geskors het. Malema verkondig nou die leuen dat witmense alles wat ons besit, van die swartes gesteel het, en dat die hele Suid-Afrika “nog altyd” aan die swartes behoort het.
Daar is ook ander swart aktiviste wat die leuen versprei dat Jan van Riebeeck Transvaal van die swartes gesteel het. Die land se hoofstad – Tshwane – is glo deur Van Riebeeck gesteel en toe “onwettiglik” na Pretoria verander. Dit terwyl Jan van Riebeeck in 1652 in Kaapstad was, en nooit naby Transvaal gekom het nie. Die hoofstad – Pretoria – is in 1855 deur die Voortrekkers gestig. Daar was toe nog geen stad, stat of dorp in die omgewing nie.
Sulke valse gerugte oor die geskiedenis kan erg gevaarlik wees. Vele blanke kinders, wat nie die vak Geskiedenis op skool geleer het nie, kry hul inligting van die ANC, en dan begryp hulle nie hoe dit moontlik kan wees nie. Hul eie ouers het hulle niks oor die geskiedenis vertel nie, en hulle het ook nie op skool enigiets daarvan geleer nie, maar nou dat hulle volwasse mense is, of selfs al bejaard is, hoor hulle hierdie verdraaide en leuenagtige verhale oor die verlede wat nie rym nie.
Swartmense glo “slegs wittes kan rassiste wees, geen swarte is instaat om ‘n rassis te wees nie.” Daar word ook gesê dat “alle witmense ryk is, en dat alle swartes arm is.”
Heel weinig van vandag se blanke jongmense, en waarskynlik geen swart jeugdige, het al van die arm blankevraagstuk gehoor. (Eintlik moes dit “arm Afrikanervraagstuk” geheet het, in plaats van “arm-blankevraagstuk”, want die armoede het hoofsaaklik volksgenote geraak, en nie die Engelse nie).
Die armoede het reeds vòòr die oorlog tussen die Boererepublieke en Groot Brittanje onder Afrikaners begin. Die oorlog, uit die aard van die saak, het die armoede geweldig laat toeneem. Aangesien die meeste volksgenote boere was, wou en kon die meeste van hulle slegs boer. Maar, landbougrond was min en die bevolkingsaanwas te veel. Die meeste boere het hul plase aan die oudste seun in die gesin oorgedra, en die res van die kinders moes maar werk in die stede gaan soek.
Aangesien die meeste jongmense ongeletterd was, en die stede deur Engelse gedomineerd was, was die aanpassing vir Afrikaners moeilik, en sosiale verval groot. Droogtes het veroorsaak dat boere verder verarm het, en selfs ryk boere het gou verarm. Die “kultuurskok” was vir vele volksgenote eens te veel, want die Engelse se siening oor die lewe, veral hul onverskillige houding teenoor die Christelike godsdiens, was vir die Afrikaners onaanvaarbaar. Seker 90% van alle Afrikaners was Protestants, en lidmate van ‘n Gereformeerde kerk.
Afrikanerskole is gestig en jong manne is na Nederland en Skotland gestuur om as predikante en onderwysers opgelei te word. Daar is ook ‘n paar universiteite en sake-ondernemings gestig om akademici aan te moedig om liewer in Suid-Afrika te studeer en om hulle finansieël te steun. Die stryd teen armoede was nie net ‘n ekonomiese stryd nie, maar ook ‘n sosiale, kulturele en politieke een om Afrikaners se selfrespek op te bou, en om ‘n gevoel van patriotisme en naasteliefde te kweek.
Die bekende Afrikaanse skrywer, C J Langenhoven, het gesê:”Eers wanneer ‘n volk lees, is hy vry!” Vader Kestell (‘n ewe bekende Afrikaner-geestelike) het oor die ekonomie gesê:” ‘n Volk red homself.”
Een van die Boereleiers, Generaal Barry Hertzog, het hom téén diegene wat lojaal teenoor Brittanje was uitgespreek en gesê:”Suid-Afrika eerste!”
Sowat 46 jaar na die einde van die Anglo-Boere-oorlog – in 1948 – het die volk die oorwinning by die stembus behaal – toe die Nasionale Party van Dr Daniël Malan – die regering by die Brits-oorheersde Suid-Afrikaanse Party oorgeneem het. Ook op ekonomiese vlak het Afrikaners met rasseskrede vooruitgegaan, en hoef hulle nie meer minderwaardig teenoor die Engelse te voel nie.
In die sestigerjare is Suid-Afrika, onder leiding van die Amsterdam-gebore Dr Hendrik Verwoerd, tot ‘n Eerstewêreldland verklaar. In 1970, 4 jaar nadat Dr Verwoerd in die parlement deur die Ciprioot – Dimitri Tsafendas – vermoor is, het Suid-Afrika, ekonomies gesproke, sy hoogtepunt bereik.
Nog nooit daarvoor, of daarna, was Suid-Afrikaners (van alle kultuurgroepe) ekonomies so sterk soos in die sewentigerjare nie. Die Afrikaner-regering het nie net na homself omgesien nie, maar na almal in die land – swart, wit, bruin en geel.
Dr Verwoerd se opvolgers – John Vorster, P W Botha en F W de Klerk – het die een na die ander toegewings na links begin maak. De Klerk het, sonder om die Afrikanervolk in die saak te ken, die hele land (op ‘n skinkbord) aan ‘n swart, Marxistiese regering oorhandig. Die minste wat hy kon gedoen het, was om ‘n klein gedeelte van die groot land as ‘n Afrikaner-republiek te verklaar, maar hy het verkies om die hele land weg te gee, en die Afrikanervolk vir die spreekwoordelike “wolwe te gooi.”
Nou staan die Afrikanervolk weer waar hy in 1902 gestaan het. Hierdie keer is sy vyande nie net die Engelse nie, maar ook 50-miljoen swartes. Die haat onder die Engelssprekende Suid-Afrikaners het nog nie verdwyn nie, en hulle is nog net so vyandig teenoor Afrikaanssprekendes.
Die Afrikaner-Boerevolk se getalle in Suid-Afrika is sowat 3-miljoen, terwyl die uitgeweke volksgenote, wat tans in Westerse lande oorsee woon, omtrent 1-miljoen tel. Die res van die inwoners tel ongeveer 44-miljoen. Niemand weet hoeveel illegale immigrante in die land is nie, maar deskundiges bereken dit op tussen 8-miljoen en 16-miljoen. Swartes uit die res van Afrika stroom daagliks oor die onbewaakte grense van ons land, en Chinese immigrante tel reeds meer as ‘n halfmiljoen.
Die Afrikaner-Boerevolk verdien ‘n minimum van minstens 60 000 vk/km van die 1 219 080 vk/km van die land se totale oppervlakte. Aangesien Suid-Afrika se oppervlakte uit vrugbare, groen, waterryke gebiede, sowel as woestynagtige gebiede bestaan, sou dit onregverdig wees om aan elke kultuurgroep ‘n ewe groot stuk van die land te gee. Indien die Afrikanervolk homself in die Noord-Kaap (wat Suid-Afrika se droogste provinsie is) sou vestig, sou ‘n oppervlakte van 100 000 vk/km tot 120 000 vk/km geregverdig wees.
Peter Murray